Prediker 1: 1-11

Die Prediker dink na oor die vraag of ’n mens jou lewe as sinvol kan beleef en leef. In die voorwoord tot sy boek val hy met die deur in die huis: Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Nou wie is hierdie Prediker en hoe moet ons sy gedagtegang verstaan as ons met dieselfde lewensvrae worstel?

Daar bestaan ’n kerklike tradisie dat die wyse koning Salomo die outeur was (1: 1 en 1: 12). In die res van die boek word daar egter nêrens na hom as skrywer verwys nie. Die taalgebruik is ook tipies van so ongeveer die derde tot die tweede eeu voor Christus, terwyl Salomo baie vroeër (tiende eeu voor Christus) geleef het. Dit was ook die gebruik om wysheidsuitsprake van ’n onbekende leraar in die mond van ’n erkende koning of leraar te lê om so daaraan gesag te verleen. Ons het hier te make met die nadenke van ’n wysheidsleraar wat te velde trek teen die verstarde en onbuigsame idees van teoloë van sy tyd. Prediker bevraagteken byvoorbeeld die vergeldingsleer en staan skepties teenoor “alles-weters” en “pasklaar-antwoord-gewers” van sy tyd.

As wysheidsleraar kyk hy krities na lewensgebeure. Met die retoriese vraag in vers 3 maak hy ’n stelling dat alles waarmee ’n mens besig is (sy lewensarbeid), waardeloos is. Met voorbeelde uit die lewe van ’n mens en die natuur toon hy aan waarom hy tot hierdie pessimistiese gevolgtrekking kom. Sy gevolgtrekking is dat alles troosteloos is, omdat daar geen doel in die lewe is nie. Geen menslike arbeid lewer positiewe resultate op nie. Ewemin as die natuur, kan ’n mens iets blywend en positief bereik. Hy bevraagteken die siening van sy tyd dat goeie gedrag met goeie gevolge en slegte gedrag met slegte gevolge beloon word – alles kom tot niks.

Ons sal krities na die boek Prediker moet luister, want al voel ons baie keer soos die Prediker, glo ons dat ons lewe in God se hand is, en daarom moet ons kies om betekenisvol te leef.

Ds Japie Coetzee, Emeritus                 

af
af
Deel met behulp van
Copy link