Jesaja 62
Jesaja 62 het ’n besondere rykdom van beelde waarmee die profeet vir die volk hoop wil gee. Die beelde van dagbreek, ’n brandende fakkel, ’n nuwe naam (identiteit), ’n sierlike kroon, ’n koninklike tulband, ’n vrou wat nie meer verstote is nie, ’n land wat nie meer verlate lê nie, ’n jongman wat met ’n meisie trou, ’n bruidegom wat bly is oor sy bruid, en wagte op die mure, is alles beelde wat verwagtinge skep van ’n nuwe toekoms. Israel word hier herinner dat God hulle liefhet, en daarom word hulle opgeroep in vers 10: Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek ’n banier op dat die volke dit kan sien! Dit is die boodskap aan ’n platgeslane volk wat terugkeer na ’n stad en ’n tempel wat verwoes is, met drome wat aan skerwe lê, en mense wat geen hoopvolle uitsig het oor die toekoms nie. Jesaja roep die volk op om met geloofsoë weer hoopvol te lewe.
As ons ’n krisis beleef, kan ons ook maklik vergeet dat God in ons lewens teenwoordig is, omdat ons Hom soek in kitsoplossings en vinnige antwoorde. Martin Luther het gesê: Ons verstand verlei ons om dinge te sien soos almal dit sien en oor sake te oordeel soos almal dit doen. Hy sê dis oppervlakkig, nie verstandig nie, en beslis nie gelowig nie. Geloof help jou om dinge en mense te sien soos God dinge en mense sien – om te sien wat jy nie kan sien nie, en nie te sien nie wat jy sien.
Jesaja wil vir ons sê: As jy sonder moed en sonder hoop is – kyk weer! God ís besig in ons lewe en in ons wêreld. God se verlossing loop langs vreemde paaie. Dit loop oor Golgota, deur ’n gebreekte liggaam en gestorte bloed. Moenie jou blind staar teen dit wat jy sien rondom jou nie, want dit is nie die volle prentjie nie. Glo en sien God.
Ds Martin Meyer, Secunda
