Romeine 8: 9

Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.

Is jy gebalanseerd? Kan jy jouself beheer? Of: Is omstandighede jou baas? Is jy buierig? Is daar dinge buite jouself wat jou lewe hel op aarde maak? Ja, laasgenoemde is maar hoe dit baie keer met ons gaan. Ons sê en doen dinge wat anders is as wat ons dit wou gehad het. Ons hoor dit ook in Romeine 7: 19: Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

Ons menslike natuur maak ons soms slagoffers van slegte gewoontes. As dit gebeur, beleef jy baie maklik ’n gevoel van magteloosheid. Al het jy die sterkste wil om op te hou met dit wat vir jou en vir almal om jou ’n slegte belewenis is, is dit onmoontlik om teen jou aangebore menslikheid te wen.

Dit is hierdie magteloosheid wat dit die moeite werd maak om ’n Christen, ’n kind van God te wees. Die Bybel onderstreep dit in 2 Korintiërs 3: 17: …waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. As jy die Heilige Gees toelaat om in jou in te trek, as jy sy instrument word waardeur Hy werk, ontdek jy die wonderlikste ding wat met jou kan gebeur: Hy stel jou in staat om dié vrugte te dra wat Hy in jou laat groei. En wat wil jy meer hê as dit? Waar kan daar groter vryheid en geluk wees as waar Hy liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, nederigheid, getrouheid en selfbeheersing tot stand bring? Dit sal mos hemel op aarde wees as dit die toestand is wat heers waar jy is. Gee God beheer oor jou lewe, dan sal jy in beheer wees en nie ’n oorlas vir jouself en vir ander nie – hemel op aarde!

Ons Vader wat in die hemel is, laat u koninkryk kom, in my… Laat u wil ook op die aarde geskied, deur my… Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link