Genesis 11: 1-9

Die probleem in hierdie verhaal van die toring is die eenvormigheid van die groep. Daar is nie ander tale of volke teen wie hul grootsheid gerig kan word nie. Hulle is onuitdaagbaar. Hulle probeer hierdie toring bou tot in die hemel om hul plek in te neem daar waar die onuitdaagbare wesens woon. Die inherente feilbaarheid van so ’n eenvormige, meerderwaardige groep, is egter dat geen verskil of andersheid geduld kan word nie. Ons gebruike en beskouings maak ons groot en sterk, so enige verskil daarvan is gemik op ons vernietiging. Geweld en vrees en afgryslike sonde onderhou die eenvormigheid. Dit vernietig enigeen wat nie eenvormig wil of kan wees nie. Dis die dinge wat hierdie mense nou na die hemele toe wil uitbrei. En die hemel is nie die plek daarvoor nie, want God is anders. Goed, vergewensgesind. Nie liggeraak of bedreig deur kritiek of verskil nie.

Ideologie bewerk nie waarlik eenheid nie, dit vernietig diversiteit. Die een vernietig die ander. Eenheid is die ingeligte en vrywillige vereenselwiging van diversiteit. Dit is die een wat met die ander versoen. Dit is God wat met die mens versoen. Dis die liefde wat die ander toelaat om te wees wat hulle is sonder om bedreig te voel. Dis ons wat in ons sonde genooi word om God se lewe te deel.

Wat ons met daardie vereniging met God doen, kan nie wees om die ander te vernietig of stil te maak as hulle nie met ons of ons God saamstem nie. Ander gode se dienaars redeneer só. Ander filosofieë se aanhangers. Ander ideologieë se proponente. Goed wat uitgedaag en bedreig en vernietig kan word indien hulle nie eerste die ander vernietig nie.

God verhoed ons om torings van menslike eenvormigheid na die hemel toe uit te brei, want volgens daardie eenvormigheid moet óf ons óf God vernietig word. Hy kom eerder aarde toe en leer ons hoe om sy vorm van eenheid aan te neem. Hoe om ons vyande en kritici lief te hê.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link