Psalm 88

Baie keer hoor jy dat iemand wat bitter swaar kry, uitroep: Waarom ek, o God? Ek wat U ken en U elke dag van my lewe dien? Dit is ook wat die digter van Psalm 88 uitroep, toe die swaarkry te veel word vir hom. Hy sê: …ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf… Waarom verstoot U my, Here?

Hierdie Psalm staan bekend as ’n klaaglied, of dan ’n klaaggebed. Dit is een van die donkerste klaaggebede wat ons in die Bybel kry. Wanneer ons dit vergelyk met soortgelyke Psalms, val dit ’n mens op dat enige vorm van lof of dank aan God ontbreek. Die ervaring wat die bidder het, is dat God die mens wat hier bid, kwaad aandoen. U laat al u golwe oor my breek… Dit is ’n swaar las waarmee U my teister.

As die bidder uitroep Waarom verstoot U my? vra hy eintlik na wat die doel is wat die Here met hierdie lyding wat oor hom kom, in die oog het. Ons leer hier dat ons ook maar ons klagtes voor die Here mag uitstort. In ons gebede mag ons alles vir God sê, en dit kan selfs ons teleurstelling oor God as aanklag teen Hom en verwyt teen Hom insluit. Om te kla, is soms nodig. Soms is ons so bedruk en/of neerslagtig, dat ons niks anders in ons gebede kan uitkry nie as om ons klagtes voor Hom uit te stort.

Om so te kla, help soms. As jy jou binneste seer na buite toe kan laat gaan en dit selfs voor God uitroep of uitskree, kan dit geweldig genesend wees. Om te kla, kan die eerste tree terug na die lewe wees. Terug na ’n lewe om God weer te wil loof. Na ’n lewe sonder benoudheid en seer. Eers as jy vir God jou vuis van woede of angs toon, kan Hy daardie vuis weer oopmaak en daarvan ’n ontvangende hand maak wat God se liefde, troos en genade ruimskoots aanneem.

Ds Arie Kuyper, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link