Johannes 19: 38-42

Jy sal met my saamstem, na ’n begrafnis of troosdiens van ’n geliefde, as al die familie gegroet het en jy skielik alleen is, is dit asof die stilte oor jou neerdaal. Dit is dan dat die geraas in jou ore stil word, en die simpatieke woorde van geliefdes eers insink. Dit is dan dat ’n mens tot die besef kom dat dit nou finaal verby is, en dan kom jy tot rus.

So was dit na die intense week van pyn en lyding, toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het en Hy leweloos daar gehang het. Dit is toe dat Josef van Arimatea – Jesus se geheime dissipel – toestemming by Pilatus gaan vra het om Jesus se liggaam weg te neem. Hy het die liggaam met geurolie behandel en in ’n nuwe stuk linne toegedraai. Daarna het hulle Hom gaan neerlê in ’n nuwe graf wat nog nooit gebruik is nie. Die klip is voor die graf gerol en hulle het gaan rus, want die sabbat was besig om aan te breek.

Met Jesus in sy graf, kon die stryd teen die dood begin. Jesus het die dood daar in die graf oorwin. Die graf is nie meer die laaste rusplek nie, maar eerder die plek van verwagting, die deurgang na ’n nuwe lewe.

Aan die buitekant van die graf is dit stil en somber. Jesus se volgelinge het dit waarskynlik beleef as die einde van alle hoop. Hulle het nog vasgekleef aan die hoop van ’n Messias, ’n Redder wat hulle uit die mag van die Romeinse Ryk sou bevry. Die stilte daal oor hulle ook neer op daardie Saterdag, met die gedagte, alles is verby, alles in totale wanhoop.

Binne die graf is die donkerte besig om te kwyn. Jesus die Oorwinnaar bring nuwe hoop en nuwe lewe. Dit breek deur in ons lewens vandag. Dit bied vir ons ’n toekoms saam met Jesus, ’n ewige lewe in sy teenwoordigheid. Dan begin Johannes 3: 16 nuwe kleur kry wanneer ons saam bely: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap