Lukas 10: 38-42

Christene beleef in elke generasie talle uitdagings. Daar is twyfel, teenstand, ontmoediging, verdeeldheid, verwerping, die stryd teen selfsug – en so kan die lysie langer raak. Maar vandag kan ons uit die teks leer hoe om met hierdie uitdagings te werk te gaan. Hierdie uitdagings word, soos jy ouer word, ook meer en meer. Dit strem dan soms jou verhouding met die Here, en voor jy jouself weer kan oriënteer, het jy koers en momentum in jou geloofslewe verloor. Ons het daardie gevoel van leegheid, frustrasie en sielsmoegheid. Ons vreugde verdwyn, en die lewe word ’n stryd om oorlewing.

In ons teks beklemtoon Jesus hoe belangrik dit is om rus te vind in jou lewe. Rus by sy voete, en deur van Hom te leer. Marta, daarteenoor, is besig om ’n goeie gasvrou te wees, wat harde werk vra. Daarom word sy kwaad as haar suster haar nie help nie. In daardie oomblik spreek sy nie net haar suster aan nie, maar ook vir Jesus en beveel sy Hom sommer ook om met haar suster te praat. 

Marta, Marta… Met sagte, vriendelike, simpatieke woorde antwoord Jesus haar. Hy sê: Jy is bekommerd oor te veel dinge. Net een ding is nodig, en dít het Maria gekies. Ons het ’n balans nodig tussen beleef (luister) en bedien – anders raak ons so besig dat ons onsself oorwerk en nie tyd het vir wat belangrik is nie. Nog erger, dat ons naderhand nie meer onderskei tussen wat belangrik is en wat nie.

Veral in moeilike tye is dit nodig om stil te raak voor God, deur na Hom te luister en met Hom te praat. Selfs Jesus moes in sy lyding telkemale stil word en met sy Vader verkeer. So het Jesus gefokus gebly en krag ontvang om te volhard. Dis die voorbeeld wat ons vandag so nodig het in ons eie lewens.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link