Jeremia 16: 19-21

Jeremia het in ’n tyd van groot spanning geleef, omdat daar konstant oorlog was tussen die groter nasies.

Toe bring Jeremia vir sy mense ’n boodskap wat hulle nie graag wou hoor nie. Hulle probeer so hard om die groter nasies se guns te wen dat hulle van die Here vergeet het. Hul godsdiens het ’n vormgodsdiens, ’n leë dop geraak. Uiteindelik het die Here se boodskap hulle baie ongemaklik gemaak. Hoekom? Die een ding wat ons altyd moet onthou van God se koninkryk, is dat dit anders werk as aardse koninkryke. Dis omdat God se koninkryk nie van die wêreld af kom nie. God is nie deur ’n mens ontwerp of deur ’n mens uitgedink nie. God is dié Een wat die wêreld geskape het en ons mense gevorm het. Daarom sal God se koninkryk anders werk as hoe ons daaroor dink.

Kom ons doen ’n interessante oefening om dit te verstaan. Gestel ons het elkeen ’n opdrag wat ons teen vanaand moet ingee. Ek moet ’n plan gaan optrek van hoe ek dink God se koninkryk moet lyk. Ek moet God se koninkryk gaan ontwerp. Hoe gaan oorwinning lyk in hierdie koninkryk, as ék dit moet ontwerp? Hoe gaan regverdigheid lyk? Wat het, volgens my, baie groot krag? Nie een van ons sou eerste aan die kruisiging en opstanding gedink het nie. Dalk sou genade, vryspraak en liefde nooit eens by my opgekom het nie. Nou kom ek agter dat God se koninkryk regtig anders is, en nou weet ek hoekom mense, selfs gelowiges, so vinnig ongemaklik raak met God se woord.

Wat kan ek gaan doen vandag? Ek gaan vandag onthou dat God se koninkryk anders is en dat ek my lewe daarby moet aanpas. Ek gaan vandag só leef dat my geloof nie ’n leë dop is nie. Ek gaan die Here vra om my te help dat ek Hom sal leer ken as my Sterkte, my Beskermer en my Toevlug.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap