Job 7

’n Beter vertaling van vers 12 is: Is ek Jam dat U my aan bande wil lê, of Tannin dat U my laat bewaak? Die skrywer van Job verwys waarskynlik na die Kanaänitiese mitologiese seegod Jam en die  seemonster Tannin. In die mite wil Jam homself as hoof van die gode vestig en met Baäl, die vorige hoofgod, in ’n geveg betrokke raak. Met behulp van twee knuppels wat die god Khotat-wa-Hasis gemaak het, verslaan Baäl vir Jam. Waarskynlik is hierdie verhaal deel van ’n skeppingsverhaal parallel aan die bekende Babiloniese skeppingsverhaal, waar Marduk, die hoofgod, vir Tiamat die seegod verslaan. Dan stoot hy die grense van die oseane terug sodat die droë grond verskyn en die aarde ontstaan. Die seegod en die seemonster, volgens die mites, wil nog altyd die grense terugskuif en weer chaos in die skepping veroorsaak. Dit is waarna Psalm 74, Jesaja 27 en 59 en enkele ander dele ook verwys, vanuit hul verstaan dat God die Leviatan of seemonster aan bande lê om nie weer chaos te kan veroorsaak nie.

Vir Job voel dit of God dink hy is Jam of Tannin en hom so aan bande lê deur hom elke oomblik met lyding en ellende te tref. In sy klaaglied sluit hy aan by die bekende woorde van Psalm 8, maar hy stel dit negatief: Wat is die mens dat U soveel van hom maak, dat U hom van dag tot dag met beproewings besoek? Hy smag daarna dat God net ’n oomblik wegkyk, sodat hy ’n bietjie asem kan skep en die lyding ’n oomblik kan ophou.

Die punt wat Job mis, is dat die ellende wat op ons pad kom, deel is van ons gebroke wêreld. Dit is nie ’n teken dat God jou as vyand sien of jou met die ellende tref nie. In Christus leer ons later dat God ons juis in ons nood wil bystaan. Daarom mag ons nooit ons verwondering vir sy genade verloor nie, verwondering verwoord in die vraag: Wat is ek as mens, dat God by my is en aan my dink?

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link