Hebreërs 13: 1-2

’n Man vertel my van sy eerste besoek aan die kerk toe hy stad toe getrek het. Bang dat hulle laat sal wees omdat hulle nie die paaie ken nie, ry hulle vroeg die Sondagoggend. Hulle daag baie vroeg by die kerk op en gaan parkeer onder ’n koelteboom. Hulle het blykbaar net ’n rukkie gesit toe die koster aan die ruit kom klop het om te sê dat hulle asseblief op ’n ander plek moet gaan parkeer. Die plekkie onder die boom behoort glo aan ’n vername ouderling! Hulle het toe inderdaad op ’n ander plek gaan parkeer… by ’n ander kerk twee blokke verderaan!

Hoe mense dink dat hulle God se liefde en omgee kan uitleef sonder om vriendelik en gasvry te wees, bly ’n raaisel. Die Here openbaar Homself nie aan ons as ’n koue, hartelose veraf “voorsienigheid” nie. Hy is Iemand. Iemand wat ons wil laat tuis voel by Hom; wat wil omgee en sorg. Die Psalmdigters vertel dat hulle welkom en veilig voel by God. Dit is onder andere die boodskap van Psalm 23 waar die gelowige soos ’n eregas deur die Here bederf word. Sy kop word met olie gesalf en hy kan by ’n volgepakte tafel aansit.

Wanneer God in die gestalte van Jesus optree, is sy gasvryheid opmerklik. Jesus het niemand weggewys nie. Nie die skelm belastinggaarder of die Samaritaanse vrou nie; nie die volksvyand (Romeinse offisier) of die Gadara-besetene nie. Nie eens die besmette melaatses is weggewys nie. Ook nie die geleerde Nikodemus in die middel van die nag nie.

Gasvryheid is ’n Goddelike familietrek wat deur sy beelddraers vertoon moet word. Ons moet namens Jesus mense welkom, veilig en tuis in sy teenwoordigheid laat voel. Die enigste manier waarop seerkrymense veilig en geborge kan voel by God, is wanneer ek en jy, sy dissipels, die ruimte daarvoor skep. Ons is die eerste deur waardeur verwilderdes beweeg om by God uit te kom.

Vader, laat mense deur ons gasvryheid u teenwoordigheid ervaar. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link