Johannes 5: 1-17

Ons kan toelaat dat die foute van die verlede ’n meulsteen om ons nekke word wat ons definieer, kniehalter of laat ontspoor – of dit kan die aansporing wees wat lei tot hoër hoogtes en nuwe vrede.

Ons lees in Johannes 5 van ’n man wat weens ’n ernstige siekte vir 38 jaar by die bad van Betesda gelê het. Hy het moeilik beweeg en kon nooit betyds by die bad kom as die water in beweging kom nie. En dan ontmoet hy vir Jesus wat vir hom sê: Staan op, tel jou goed op en loop, oftewel, volgens die 2020-vertaling: Staan op, tel jou slaapmat op en loop. Waarom sy slaapmat nie net daar los nie? Na 38 jaar is daardie mat seker al gehawend, voos en vuil – as hy niemand kon kry om hom in die water te sit nie, was daar waarskynlik ook nie iemand wat die mat kon vervang nie. En nou gee sy redder en geneser vir hom ’n opdrag om die slaapmat met hom saam te neem. Hoekom?

Dalk sou dit ’n blywende herinnering wees aan ’n tyd toe dit met hom minder goed gegaan het, totdat God ingegryp het. Miskien moes die slaapmat hom herinner dat die uitkoms toe nooit by die bad van Betesda te vinde was nie, maar by Christus.

Om vrede te maak met die verlede, beteken nie jy moet die verlede vergeet nie. As ek nie meer weet waar ek vandaan kom nie, sal ek nie maklik kan ontdek waarheen ek op pad is nie. En dis goed om nou en dan te onthou wat dit gevat het om tot hier te kom – die struikelblokke, die teleurstellings, die mislukkings, die neerlae, die weer begin en oor begin, die stryd. En hier is ons nou, slaapmat en al – die herinnering aan swaar tye, maar wat tog ook goeie dae was, want dit verleen stukrag aan wie ek uiteindelik wil, en kan, wees. Dalk is ons nog nie heeltemal daar nie, maar ons is sterk daarheen op pad – elke dag nader en nader.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap