Hosea 2: 1-2, 13-22
Terwyl Israel die Here aanbid, loop hulle ook agter ander gode aan om hul brood aan beide kante gebotter te probeer hou. Maar die Here is nie baie gelukkig hiermee nie. Hy wys vir hulle hoe dit Hom laat voel. God vergelyk sy besondere verhouding met Israel met dié van ’n man en vrou wat getroud is. In hierdie verhouding gaan Israel agter ’n klomp ander minnaars aan. Dit, terwyl Israel eintlik trou beloof het aan God. Die Here voel verraai en verpletter.
Dit is dan verstommend om te sien wat die Here doen. Ons sou dink God sou die finale doodsvonnis gee vir Israel. Maar Hy doen dit nie. Hy gee eerder nog ’n kans. Daar waar Israel op die grond is en niks meer het nie, besef en bely hulle dat dit die Here is wat voorsien, nie die ander gode nie. Dat hulle afhanklik is van God. Eers wanneer Israel by hierdie besef en belydenis kom, begin dinge herstel. Hul verhouding met God herstel. Hy gee vir hulle ’n splinternuwe kans, asof daar niks gebeur het nie! God is werklik ’n genadige God! En wanneer die verhouding tussen God en sy volk herstel, begin die herstel uitkring sodat selfs die natuur herstel. God voorsien weer in hul behoeftes, want nou leef hulle afhanklik van die Here.
Hierdie teksgedeelte herinner ons dat ons selfondersoek moet doen. Is ons in ’n diep en opregte verhouding met die Here? Is dit wat ons doen in lyn met iemand wat die Here eerste prioriteit in hul lewe maak?
Israel het na groot vernedering, afgrensing en hongersnood besef en bely dat hulle afhanklik is van God. Wanneer ons bely dat ons in ’n intieme en werklike verhouding met die Here is en dit bevestig met ons lewens, dan kom daar herstel. Die herstel en vernuwing soos wat Christus vir ons gebring het. Dit is vergifnis en genade wat ons verstand te bowe gaan. Met hierdie besef en belydenis kan ons weer opnuut ’n hegte verhouding met die Here hê.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
