Matteus 21: 1-11

Sonder Paasfees het Kersfees geen betekenis nie. Ons kan nie opgewonde en bly wees oor die koms van Jesus Christus na ons wêreld sonder om tegelykertyd bewus te raak van die rede waarom Christus mens geword het nie. Hy het mens geword sodat Hy ons van die sonde en die dood kon red. Ons moet daaraan dink dat hierdie fraai klein Babatjie wat in die krip lê ons Verlosser is en dat Hy gekom het om al ons sonde en ongeregtigheid op Hom te neem.

Jesus kom Jerusalem binne op die vooraand van die Joodse pasga: ’n fees van herinnering en hoop. Die skare roep hulself die groot verlossingsdaad van die Here God voor oë, toe Hy sy volk vanuit die slawerny in Egipte gelei het. Tegelykertyd hoop hulle dat hulle weer so ’n bevryding sal beleef – hierdie keer van die wrede juk van die Romeine.

Sedert Jesus se opstanding het die Christelike kerk weer voor hierdie versoeking te staan gekom: Ons wil Jesus ons groot Magsfiguur maak. Maar die Here God kom ons in ons ellende en onkunde tegemoet. Hy leer ons om die ware betekenis van sy koms in hierdie wêreld te verstaan, want Hy bring nie oordeel nie, maar verlossing en genade. Hier op die rug van ’n donkie kom Een wat nabyheid soek en nabyheid skenk, in stede daarvan om sy mag te demonstreer. Die donkie is immers die pakdier van die magteloses.

Dit is Advent: Dit is die hoopvolste tyd in ’n gelowige se lewe, want ons verwag die Here Jesus se koms. Ons gedenk die tyd wanneer Hy na ons toe kom en onder ons kom woon. Hy laat ons nie alleen nie. Hy reik na ons toe uit en Hy ontsien geen lyding nie. Hy kom vanuit die hemel as Dienskneg sodat Hy ons seer, ons pyn, ons hartseer en ons ongeregtigheid op Hom kan neem en ons vir ewig daarvan kan verlos. Christus kom, ja, ons Koning kom, en Hy ry op die rug van ’n donkie.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link