Jesaja 41: 17-20 

Jy weet wat Kersfees ís, en vier hom sonder om te weet hoe Kersfees wérk. Jy kan sê ons vier die geboorte van God wat deur ’n vrou se lyf in die wêreld aankom, maar dis ’n raaisel hoe. Ons het van “menswording” begin praat asof dit kán, want dit hét mos, maar ons het nie die gereedskap daarvoor nie. 

Jesus is meer as net “mens”. Dis nader aan waar om te sê God het “vléés” geword. Jesus is ’n biologies lewende wese met atome, selle, senuwees en senings, spiere en niere, hart en hande. God word só eg skepsel dat Hy selfs sterf, maar Jesus blaas nuwe lewe in die skepping in. Jesus werk sagkens met alle lewe: met mossies, lelies, veldgras, koring en onkruid, visse, jakkalse, varke en wurms, met vriende en vyande, en nie net met mansmense nie: álle vlees. Dis ’n nuwe skepping hierdie wat weerstand bied ook teen die sonde wat mense doen, nes geneties aangepaste voedsel teen peste. 

In Jesaja 41 is Israel op pad huis toe na ballingskap. Min sal tuiskom; die pad is lank en swaar. Op kaal bergtoppe langs die pad laat God riviere ontspring. Fonteine borrel uit. Woestyn word vleiland. Bome kom op: seders, doringbome, mirte en olyf, sipresse, platane en denne. Nie vrugtebome nie, koeltebome wat skuiling bied. God lawe Israel in koeltes en langs waterpoele. 

Die natuur is nie net wildernis, fisika en chemie nie. Gód is daarin. God gebruik die skepping vir sorg. Die skepping is meer as net ’n mooi prentjie. Bome in Brasilië neem giftige gasse op en voer suurstof uit Afrika toe. Olifante stamp bome om vir die sap in die stam en die wortels, en kleiner blaarvreters kom dan makliker hul kos by wanneer niks eetbaars meer hier onder groei nie. Dalk doen nie een van hulle dit met voorbedagte rade nie. God sit daaragter. Soms blom ’n woestyn net voor jy daar aankom. Jy hou piekniek in die koelte. Jy vier “God by ons”.  

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

af
af
Copy link