Genesis 9: 12-16

Wanneer Jesus gevange geneem word, trek een van sy dissipels ’n swaard uit en probeer om Jesus met geweld te verdedig. In die proses kap hy iemand se oor met die swaard af. Jesus beveel sy dissipel egter om sy swaard terug te sit, en Hy herstel die persoon se oor. Jesus leer sy volgelinge om vredemakers te wees. Hulle moet die minste wees en die ander wang draai. Die goue reël is om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê en om die kwaad met die goeie te oorwin.

In Genesis 9 kry ons ’n prentjie van God as die Vredemaker. In vers 13 sê God: ...my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Die woord vir reënboog hier is dieselfde woord wat gebruik word vir ’n pyl en boog, met ander woorde, die wapen waarmee daar oorlog gemaak is. Letterlik vertaal staan daar:  Ek sit my boog (wapen) neer. God verklaar vrede. God wil nie met die mens op aarde baklei nie. God is nie kwaad vir ons nie. Daar is vrede tussen ons en God. God het deur Jesus Christus die wêreld met Homself versoen. Natuurrampe en ander vorms van lyding is nie ’n teken van die een of ander straf van God nie.

Geweld en aggressie is gewoonlik nie ’n goeie oplossing vir probleme nie. Tog lees ons dikwels in die Ou Testament van oorloë wat in die Naam van die Here gevoer is, God se straf oor ander volkere, en selfs van die banvloek. Hoe moet ons dit dan verstaan? Baie van die gedeeltes in die Ou Testament was bedoel om gesag te verleen aan Israel se aanspraak op sekere grondgebied. Dit het ’n politieke bedoeling gehad.

Die inname van die land word soms ook voorgestel as ’n proses waardeur die ruimte waar die Here aanbid word, uitgebrei word. Dit het weer ’n godsdienstige motief gehad. Maar in die lig van wat Jesus Christus ons oor die koninkryk van God geleer het, kan ons nie een van hierdie redes uit die Ou Testament gebruik as ’n verskoning om gewelddadig op te tree nie. Aan ons is die bediening van God se versoening gegee.

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Share via
Copy link
Powered by Social Snap