Markus 2: 13, 3: 7-10 en 4: 1-2

Markus vertel ons dat Jesus dikwels mense geleer het by die See van Galilea, dat Hy weer en weer na die meer en die strand teruggaan. As die gedrang van mense te veel word, besluit Hy om op ’n bootjie te klim en van die boot af vir die honger mense te leer met gelykenisse en leringe.

’n Groot klomp mense het Hom gevolg, mense uit sy eie omgewing Galilea, maar selfs van verder. Mense wat gesoek het na ’n leier, na betekenis vir hul lewe, na genesing, hulle almal het gestroom van ander streke: van Judea en die hoofstad Jerusalem, wat meer as 100 kilometer suid gelê het; van Idumea nog verder suid; van die gebied oorkant die Jordaanrivier; selfs van Tirus en Sidon in Sirië, omtrent 80 kilometer noord van waar Hy gebly het.

En vir die mense wat Hom gevolg het, het Hy gepreek en geleer, en bose geeste verjaag, en mense met allerhande siektetoestande genees, en ook vir hulle gelykenisse vertel: ’n gelykenis oor saad wat op verskillende plekke val; ’n gelykenis oor ’n lamp wat skyn; weer oor saad wat vanself groei; oor ’n mosterdsaadjie. Deur dinge wat hulle uit hul alledaagse lewe ken te gebruik, het Hy geloofswaarhede aan hulle verduidelik. Markus 4: 33 (AFR2020) sê: Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so ’n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan.

Wat wou Jesus hê die mense van sy tyd, en ons vandag, moet verstaan? Markus 4: 11 sê Hy wil hê ons moet die koninkryk van God probeer verstaan. En mense verstaan dit juis moeilik! Ons moet probeer verstaan: Ons het net een Koning, en dit is God! Hy regeer oor ons, ons behoort aan Hom en ons moet aan Hom gehoorsaam wees en Hom dien, deur alles wat ons doen. Ons is nie ons eie baas en koning van ons eie lewe nie. Daar is ’n groter Een wat ewig en oral is, en wat ons elkeen ken en ons Heer is.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link