Matteus 25: 14-30

Wie nie waag nie, sal nie wen nie. So lui die spreekwoord. Hierdie gesegde geld in talle opsigte van ons lewens. Met die gelykenis van die geldstukke het Jesus die dissipels opgeroep om te waag en hulself bloot te stel deur die uitdra van die evangelie. Die dissipels was bereid om te sterf vir hierdie roeping.

Vandag is ons as Christene Jesus se dissipels. Ons is hier geplaas met ons uniekheid om ’n positiewe verskil te maak. Moenie jou talente begrawe omdat jy bang is om God of mense teleur te stel nie. Soveel mense waag nie en speel eerder veilig deur niks te doen nie. Ons Skepper vra van ons om voluit te lewe. Die dienskneg wat sy muntstuk begrawe het, verstaan nie God se liefde en geduld nie. God se geduld en liefde is groot. God het ons nie net lief nie. Hy ís liefde. Jesus het vir ons iets van die Vader se hart kom wys deur sy deernis met mense se swakhede.

Jy is ’n rentmeester. Jy gaan foute maak. Niemand is volmaak nie. Ons leef almal uit genade. Die grootste fout wat ons kan maak, is om niks te doen nie, uit vrees om ’n fout te maak. Ook wat agter jou is, vergewe die Vader deur sy genade. Vra Hom om jou te vergewe as jy nog daarmee worstel. Tel dan jou kop op en gryp die geleenthede aan wat voor jou lê.

Die storie wat van ‘n versigtige boer vertel word, verduidelik mooi dat dit soms gevaarliker is om nie te waag nie. Toe ’n vreemdeling die boer vra hoe dit met sy katoen gaan, sê hy dat hy eerder niks geplant het nie, uit vrees vir die bolkewers. So gaan die gesprek tussen hulle voort.

En met jou koring?  Sy antwoord: Niks geplant nie. Te bang vir droogte.

En met jou aartappels? Hy antwoord: Nie geplant nie. Bang vir roes.

Maar wat het jy dan geplant? Toe sê hy: Niks. Ek het eerder veilig gespeel.

Veilig speel is dikwels ’n groter risiko.

Ds Louw van der Linde, Evander

Share via
Copy link
Powered by Social Snap