Psalms 131 en 134

Aan die einde van ons saamreis met die pelgrim van ouds en met mekaar, vra ek myself af: Hoe nou verder gedurende 2021 op die pelgrimsreis van my lewe?

Die gebeure van verlede jaar laat ’n mens besef dat jy voortaan anders sal moet dink oor ekonomiese, sosiale en selfs kulturele en godsdienstige aktiwiteite. Trouens, ’n mens sal anders moet dink oor menswees en oor jouself. Die digter van Psalm 131 besef dat hy nie kan staatmaak op eie status en vermoëns nie. Dit help nie om jouself te breek oor dinge wat bo jou vermoë is nie. Die beeld van ’n klein babatjie wat rustig en tevrede teen die bors van die moeder rus, gee uitdrukking aan sy besef dat, na al sy aspirasies en stryd in moeilike dae, hy alleen vrede kon vind by God. Dit vra pynlike eerlikheid oor jouself en oor wat belangrik is en wat nie belangrik is nie. Soos altyd in die lewe, is nederigheid die voorwaarde tot egte vertroue. Sy hoogste waarde is daarom tevredenheid in sy verbondenheid met God in ’n verhouding van opregte vertroue. Sy getuienis roep medegelowiges op om altyd met hierdie verwagting te leef.

By die aanvang van die terugtog ná die feestyd (Ps 134) staan die Psalmdigter met hierdie verwagting in sy hart voor die priesters wat die nagskof in die tempel moet verrig. Hy roep hulle op om die hande op te hef voor God en God te prys. Hierdie liturgiese lied het diepgaande betekenis: Die lofprysing wat versoek word, is ’n reaksie op die seëninge wat van God ontvang is, met die verwagting – daarom die hande met die handpalms na bo uitgestrek – dat God weer en weer seëninge sal gee. Dit word gedra deur die belydenis dat God die Skepper van hemel en aarde is. So het die pelgrim sy tog na Jerusalem aangepak (Ps 121) – só wil hy ook nou die terugtog aanpak in diepe afhanklikheid van God.

Ek bid vir jou die woorde van Gesang 268: Laat, Heer, u seën op hul daal… Voorspoedige reis!

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link