2 Korintiërs 3: 1-18

Die Heilige Gees is die Gees van die lewende God (vers 3). Die Gees maak lewend (vers 6). Die Here is die Gees en die Gees is die Here (vers 17), en waar dié Here-wat-die-Gees-is (vers 18) werk, kom daar vryheid (vers 17), bekwaamheid (vers 6), en skitterende alles oortreffende blywende heerlikheid (verse 7-11). Dan word die sluier wat ons verstand bedek, weggeneem (verse 12-16) en maak die Gees ons lewend (vers 6). Dan skryf die Gees van die lewende God sy woord op die harte van mense sodat hulle lewende briewe van God word, vir almal om te sien en te lees (verse 1-6).

Dit is die Gees wat oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Dis Hy wat die werk en lewe van die Seun in die lewe van mense ’n werklikheid maak, dis Hy wat Christus verheerlik, wat Christus in ons lewend maak (Joh 14: 15-26; 15: 26-27; 16: 7-15; Hand 1: 4; 2: 33). Maar óók die Gees van Christus in dié sin dat Hy die Gees is wat Christus vervul het en deur Christus lewe gewek het.

Saam met die kerk van alle eeue bely ons dat die Heilige Gees God Self is, wat in krag en vrymag en genade lewe skenk te midde van barheid, droogte en doodsheid. Hierdie lewegewende werk van die Heilige Gees leer ons in die Bybel ken as drie besondere kragdade van God, naamlik: om iets uit niks te skep, om kinders te verwek waar dit menslik gesproke onmoontlik is, en om lewe te gee waar die dood heers. Hierdie drie motiewe word in die vernuwende, lewegewende werk van die Gees met mekaar verbind in die metafoor van wedergeboorte. Om hulle tot geloof te laat kom, om hulle deel te maak van die kerk, weder-baar die Gees, wat waai waar Hy wil, mense – op sy eie tyd en geheimenisvolle manier – sodat hulle op ’n dag besef dat hulle verander is, vernuwe is en tot geloof gebring is (Joh 3: 1-21).

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap