Filippense 2: 5-8

Een van ons Kerk se hoogleraars het in die 1980’s ’n akademiese wydingsdiens gehou by die universiteit waar hy werksaam was, met die titel Die oog van God. Die teks vir hierdie boodskap het gekom uit een van die buite-Bybelse boeke, naamlik Ben-Sira. Die kerngedagte van die preek, aan die hand van Ben-Sira 17: 8a, was treffend. Kyk deur die oë van God na die mense om ons. Filippense 2: 5-8 eis in wese dieselfde van ons. Ons moet daarteen waak om met ons menslike behoeftes en ons eie soeke na eer en erkenning te kyk na ons medemens. Ons moet deur die oë van God na ons medemens en ook na onsself kyk. Ons behoort by ons medemens ’n behoefte aan liefde en ’n honger en dors na hulp en steun te vind. By ons moet daar ’n gewilligheid bestaan om hierdie behoeftes van ons naaste te bevredig.

Jesus se koms na die aarde word met die woord vernedering beskryf. Sy vernedering beweeg in konsentriese sirkels al hoe wyer. Om mens te word, vir Hom wat Godgelyk en self God is, was in sigself ’n reusevernedering. Om aan mense gelyk te word, nie as heerser of leier nie, maar as dienaar, was selfs ’n groter vernedering. Die laagtepunt van hierdie neerdaling van Jesus, was die dood. Tot in hierdie uiterste vorm van magteloosheid en weerloosheid daal Jesus neer.

Die versoek in Filippense 2: 5-8 is dat daar dieselfde gesindheid by ons moet wees as wat daar by Jesus was. Wanneer ons na ons medemens kyk, moet ons met Jesus se oë na hulle kyk. Ons moet kyk om te dien en nie om bedien te word nie. Ons moet bereid wees om op te offer, al is die prys hoe hoog. Menslik gesproke lyk die prys soms te hoog. Ons moet nietemin daarin volhard om dienaars te wees. Ons oorwinning of verering lê in ons nederige diensbaarheid.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link