Esegiël 34: 1-31

Toe iemand op ’n keer vir die teoloog Karl Barth vra om sy persoonlike geloof op te som, het hy ’n Duitse kinderliedjie aangehaal wat sê: Omdat ek Jesus se skapie is, verheug ek my nou altyddeur oor my Goeie Herder. Die herder-skaap-beeld wat die Bybel gebruik, bring die Here se verhouding met sy kinders ten beste tot uitdrukking. Die profeet Esegiël gebruik ook hierdie beeldspraak wanneer hy met die Israeliete praat nadat hulle in ballingskap weggevoer is.

Esegiël begin met ’n aanklag teen die herders van Israel wat die volk gefaal het. Die “herders” na wie Esegiël hier verwys, is die politieke leiers, maar ook die godsdienstige leiers. Die aanklag teen dié leiers is dat hulle nie die skape versorg het nie, maar eerder vir hulself gesorg het. Maar dan profeteer Esegiël dat die Here gaan ingryp. Die Here verklaar dat Hy gaan optree teen die herders en dat Hy self sy kleinvee sal soek en na hulle sal omsien. God sal sy kudde red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is met die ballingskap, en hulle terugbring na hul land toe. Die Here sal regmaak waar die leiers verbrou het. Hy sal sy kinders se God wees en hulle sal sy skape wees.

Maar dit was nie net die herders van Israel wat verkeerd opgetree het teenoor die skape nie, die Here spreek sy volk ook aan oor hul onderlinge verhoudings met mekaar. In hul onderlinge verhoudings was daar ongeregtigheid. Die skape het mekaar uitgebuit, verstoot en weggedryf. Ook hier sal die Here die verhoudings herstel deur vir hulle net een herder te stuur – sy dienaar Dawid. Deur hierdie herder, gaan die Here ’n verbond van vrede met sy kinders sluit.

Uiteindelik word Jesus Christus die Goeie Herder wat God stuur. Hy kom uit die nageslag van Dawid. Hy word ons een en enigste Herder – self ’n Lam, ’n slagskaap – wat sy lewe vir ons aflê. Nou leef ons in dié sekerheid dat ons aan die Goeie Herder behoort, dat Hy ons versorg, beskerm en lei, deur alle omstandighede heen.

Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap