Jeremia 31: 31-34:
Ons is baie keer skrikkerig, of dalk is huiwerig ’n beter woord om te gebruik, wanneer ons oor die Heilige Gees praat. Miskien is die ongemak deels omdat ons nie regtig die werking van die Heilige Gees ten volle verstaan nie, en andersyds omdat ons nie die Heilige Gees kan sien nie. Maar hierdie dinge verhinder glad nie die werking van die Gees of ons ervaring van die Gees nie.
Reeds in die Ou Testament was daar profete wat geweet het God gaan op ’n wonderlike manier ingryp in die mens se lewe – ook ons lewe. Ons sal nie meer onderworpe wees aan die wet wat op twee kliptafels geskrywe staan nie, maar aan die nuwe verbond van God. ’n Nuwe verbond wat deur God self in ons harte geskryf is en in ons gedagtes vasgelê word deur God self.
Maar hoe sou God in ons harte skryf? Met dieselfde hand wat ons lei, met dieselfde hand wat ons beskerm, met dieselfde hand wat ons troos, aanmoedig en bemoedig. Daardie hand is die Heilige Gees.
Daardie nuwe verbond wat in ons harte geskrywe is, is nie meer reëls en wette wat ons moet navolg nie, maar dit word deel van ons karakter omdat die grootste gebod liefde is. Liefde vir God, liefde vir onsself en liefde vir ons naaste. Wanneer ons hierdie liefde nastreef, leef ons – sonder dat ons dit agterkom – die ou verbond uit. Maar geliefdes, ons kan net hierdie hartsverandering ondergaan, ’n nuwe mens word, wanneer ons die Heilige Gees in ons harte toelaat.
Gebed
Here, dankie vir u teenwoordigheid in my lewe en al u liefde en genade wat ek so onverdiend ontvang. Lei ons deur u Gees om gehoorsame kinders te wees sodat U u doel volkome met ons kan bereik. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes
