Psalm 88

Hierdie Psalm is al ’n verleentheid vir die geloof genoem. Dit is uniek in dié opsig dat daar géén teken van hoop na vore tree nie. Ons het hier te make met ’n situasie wat eintlik nooit moes gewees het nie. Dalk vanweë buitengewone onverantwoordelikheid, menslike swakheid of geestelike onkunde. Ons moet versigtig wees om te dink dié soort ervaring is nie moontlik vir ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges nie. Depressie is al vir ’n paar dekades die siekte van ons tyd. Ons almal dra kennis van mense wat selfdood toegepas het omdat hulle nie langer met hul depressie kon saamleef nie.

Ons moet uiters versigtig wees om met goedbedoelde vroomheid, gladde woorde en maklike troos oor die diepste afgronde van menslike lyding en nood te praat. Sulke lyding is steeds ’n moontlikheid in hierdie gebroke werklikheid. Die ondraaglike vir ons Psalmdigter is dat God juis swyg wanneer hy verwag dat Hy sal spreek en uithelp. Hy ken God immers as die Een wat luister en antwoord gee. Dis juis sy ervaring van ’n skynbaar swygende God wat aanleiding gee tot die dringende toon in die Psalm.

Boonop het sy medemense hom ook verlaat. Ons is nooit bedoel om in isolasie te leef nie – ons is juis mens déúr en sáám met ander mense. As mense nie na my uitreik tydens ’n noodsituasie nie, bring dit my ganse menswees in gedrang. In Getsemane moes Christus iets soortgelyk beleef het toe Hy tot ’n skynbaar swygende God gebid het. Ook sy vriende het nie die moed gehad om enduit by Hom te staan nie.

Ons troos is dat hierdie ervaring van Christus plaasvervangende lyding was. Nooit weer hoef ’n gelowige die donker afgronde van lyding sonder hoop in te gaan nie. Christus self het tot op die bodem van hierdie donker put gedaal om elkeen wat daar mag kom, op te vang. Só ’n Middelaar het altyd ’n oor en ’n hart vol begrip vir ’n mens in nood.

Psalm 71: 1, 3

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link