1 Konings 3: 1-15
Salomo se offers lyk edel, maar hy bring dit op die hoogtes – die aanbiddingsplek van die afgode. Dít is kommerwekkend. Toe God aan hom verskyn in sy droom, vra Salomo vir wysheid. Maar hy het nie net enige wysheid gevra nie, hy het gevra vir wysheid om God se volk te lei. Daarmee saam, waarvan ons gewoonlik vergeet, het hy ook gevra vir gehoorsaamheid aan God om sy volk reg te regeer. Salomo het besef dat hy sukkel om totaal en al gehoorsaam te wees aan God. Daarom dat hy vir gehoorsaamheid vra.
Hoeveel keer bid ons nie ook dat ons meer gehoorsaam aan die Here kan wees nie? Die Here help ons ook daarmee en gee vir ons geleenthede om gehoorsaam te wees. Maar steeds sukkel ons. In die boek Konings sien ons juis dat God in mense se lewens betrokke is en dat God selfs riglyne gee vir hulle oor hoe om te lewe en wat om te doen, maar dan doen hulle dit nie. Die mense skiet hulself spreekwoordelik in die voet. So is dit steeds met ons vandag – ons word ook maklik soos Salomo deur die afgode van ons tyd verlei om nie God se riglyne te volg nie. En dan maak ons onsself seer, en baie kere ook vir ander.
Tog gee hierdie verhaal vir ons hoop. Dit wys vir ons dat dit moontlik is om te lewe volgens God se wil. Ons sien dat Salomo se keuse om te vra vir wysheid én gehoorsaamheid ’n goeie een was. Die Here het hom selfs meer beloon deur vir hom nog meer te gee as waarvoor hy gevra het. Boonop het daar groei plaasgevind by Salomo – toe hy wakker word, het hy dadelik voor die verbondsark van die Here gaan offers bring. Hy bring nie meer offers by die hoogtes nie, maar eerder by die verbondsark, wat ’n simbool van God se teenwoordigheid is. Die Here help ons om gehoorsaam te wees.
Gehoorsaamheid en geloofswysheid begin by die dien van die Here.
Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend
