Lukas 15: 8-10

Vroue het in die antieke tyd tien silwermuntstukke as trougeskenk ontvang – soortgelyk aan ’n hedendaagse trouring. So, hierdie vrou verloor nie bloot geld nie, sy verloor as’t ware haar trouring. Enigiemand wat al iets soortgelyk oorgekom het, kan assosieer met haar hartseer en spyt na die verlies van iets so kosbaar. En dan die ongelooflike blydskap en verligting wanneer sy dit vind. Ons het elkeen al die verligting ervaar as ons iets vind wat ons gedink het verlore is. Daarom is hierdie beeld wat Jesus gebruik so uiters relevant.

Hy sê dus vir ons dat ons nie die enigstes was wat iets tydens die sondeval verloor het nie, God het ook. God het ook die verlies, spyt en hartseer ervaar van ’n gebroke verhouding. En daarom ook die uiterse blydskap as die verlorene weer gevind word. Selfs die engele juig oor die vonds.

Maar hierdie herstel het iets gekos. Dit het Christus sy lewe gekos. God het woord by daad gevoeg om ons verhouding met Hom te herstel. Hy het mens geword en soos ’n mens gely en gesterf. Daarom hoef ons nooit weer verlore te voel nie. Ons is gevind – deur God. En Hy sal ons nooit weer los nie.

Wat is die kosbaarste ding wat jy al ooit verloor het en gelukkig weer gevind het? Hoe ver sal jy gaan om ’n gebroke verhouding te herstel? Hoe kan jy help om mense te laat verstaan dat hulle reeds deur God “gevind” is? Veral diegene wat verlore en verlate voel?

Kom ons bid saam: Almagtige God, ons dank U met ons hele wese dat U aanhou soek het en ons gevind het, en dat U ons deur Jesus na U toe teruggebring het. Amen.

Stap vandag in met die volgende seën: Mag die vrede van ons Here, Jesus Christus, met jou wees, waarheen Hy jou ook al vandag mag stuur. Mag Hy jou lei deur die wildernis en jou beskerm deur die storm. Mag Hy jou veilig tuisbring met vreugde in jou hart.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap