Johannes 21: 15-19

’n Klein seuntjie was besig om te teken in die klaskamer. Die opdrag was dat hulle enigiets kon teken wat hulle wou. Toe sy onderwyseres by sy tafel verbystap, merk sy dat hy ’n eienaardige prentjie teken. Sy kon geensins uitmaak wat dit is nie en vra hom: Wat teken jy? Hy kyk op en met ’n groot glimlag sê hy: Ek teken ’n prentjie van God, Juffrou. Die onderwyseres was skoon uit die veld geslaan: Niemand van ons het God nog gesien nie. Die seuntjie glimlag net breër en antwoord: Maar niemand het nog my prentjie gesien nie, Juffrou.

Die prentjie van God wat Jesus vir ons gewys het, is ’n prentjie van liefde. Dis ’n prentjie van ’n Here wat stukkende mense heelmaak en met deernis met mense omgaan. Dis ’n prentjie van ’n Here wat bereid is om deel te word van ons wêreld. Jesus Christus is die goeie nuus dat God nie van ons wêreld vergeet het nie, maar intens betrokke is by sy skepping en sy mense. Jesus praat ook oor Homself in prentjies. Hy sê Hy is ’n Herder wat na sy skape kyk, die Weg en die Waarheid en die Lewe. Hy is die Deur waardeur ons moet ingaan, die Lig en die Brood wat Lewe gee. Dis prentjies wat iets van die grootheid en almag van die Here probeer verduidelik. Dis prentjies wat vertel dat ons aan die Here behoort.

Hoe lyk die prentjie van God wat ons na buite leef? Ons leef immers wat ons glo! Jesus vra vir Petrus, vir my en jou: Het jy my baie lief? As jy positief op hierdie vraag antwoord, volg dié opdrag: Laat my lammers wei, pas my skape op, laat my skape wei.

Verstaan jy nou die woorde van Gesang 488: 3?

 

Balsem bring herstel vir die wonde,

’n sagte salf vir die mense met hul seer

tot die hele wêreld kan sien dat U genees.

Mag U troos, Heer, deur óns bied.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link