1 Korintiërs 15: 35-49
Dood en liefde is twee vlerke wat mense van die aarde af na die hemel vervoer. Hierdie aanhaling van ’n anonieme persoon het my laat nadink. Vlerke beteken bevryding.
Elizabeth Kübler-Ross het navorsing gedoen oor sterwensbegeleiding en gehelp met die stigting van die hospiesbeweging wêreldwyd, wat veral sterwende kankerpasiënte bystaan in die sterwensproses in hul laaste lewensdae op aarde. Sy vertel dat duisende Joodse gevangenes in die konsentrasiekampe vlinders teen die mure geteken het. Hierdie vlinders het vir hulle simboliese betekenis gehad.
Pavel Friedman het ook so as Joodse gevangene deur die draadheining gekyk na ’n vlinder. Kort voor hy as jong man gesterf het, het hy ’n gedig oor ’n vlinder geskryf wat getuig van sy verlange na bevryding. Hierdie bevryding word gesimboliseer deur ’n metamorfose wat plaasvind wanneer ’n papie die kokon agterlaat en ’n vlinder dan “gebore” word.
Vir ons beskryf die koringkorrel in die Bybel iets daarvan. Die beeld van koring word uiteenlopend gebruik met verskeie betekenisse. Gaan lees maar Johannes 12: 24; Matteus 3: 12; Matteus 13: 24-30; Openbaring 14: 14-16; ensovoorts. Vandag kyk ons net na 1 Korintiërs 15 waar Paulus die opstandingsliggaam verduidelik in terme van ’n koringkorrel wat gesaai word. Soos die koringkorrel sterf om gestalte te gee aan ’n koringaar, is dit met ons sterflike liggame. Ons sterf in swakheid, maar word in krag opgewek. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike, verheerlikte liggaam (1 Kor 15: 42-44).
Hoe ons gaan lyk na hierdie aardse lewe, bly bo ons begrip. My oupa het altyd in sy tafelgebed gesê: Here, voed en versterk tog hierdie nietige en bouvallige liggame van ons… My ouers se liggame was verswak toe hulle gesterf het, maar hulle het deur Christus ná hierdie aardse lewe verheerlikte liggame. Dit geld vir ons almal wat in Christus sterf. Soos die papie agterbly wanneer die skoenlapper wegvlieg, gebeur dit wanneer ons sterf. Izak de Villiers skryf: Die siel kry vlerke. Die koringkorrel word ’n koringaar; ons “bouvallige” liggame word verheerlikte liggame.
Ds Louw van der Linde, Evander
