Kolossense 3: 1-4
Wat beteken dit om te vlug? Eintlik ’n klomp negatiewe dinge, nie waar nie? Vlug beteken jy wil wegkom vanuit ’n slegte situasie. Jy ontvlug die omstandighede en ignoreer soms die probleem. Watter werklikheid probeer jy ontvlug? Die aardse werklikheid of die Goddelike werklikheid? Is die dinge wat jy vandag probeer vermy of ontvlug deel van die aardse werklikheid – teleurstelling, mense, reëls en strukture? Of is dit deel van die Goddelike werklikheid – jou geloof, jou vertroue, jou verstaan van God se genade en liefde en teenwoordigheid? Vlug jy dalk van Christus?
Paulus skryf hierdie brief aan die gemeente in Kolosse. Hierdie nuwe gemeente word beïnvloed deur dwaalleraars wat probeer om ’n saamgestelde geloof te beskryf – Griekse, Joodse en Christelike geloofs-waarhede. Die gevolg was ’n sterk Joodse invloed, waarvan die Fariseërs en die skrifgeleerdes, wat in die wette geglo het, deel was. Wat het die Fariseërs en die skrifgeleerdes met al hul baie kennis gedoen? Hulle het hulself afgesonder om voluit die geloof te beoefen, want indien hulle al die wette kon nakom, sou hulle gered word.
Hierdie geleerdes het die Goddelike werklikheid ontvlug. Hulle wou alles self beheer en het hul kennis verbreed, maar nie verstaan waaroor dit gaan of dit uitgeleef nie. Indien hulle alles geweet het, sou alles volgens hulle reg wees. Maar in die praktyk? Het dit beteken hulle sou nie swaar en moeilike tye ervaar het nie? Dat niemand hulle sou uitdaag nie?
Ons weet dit is nie die realiteit nie. Wanneer Paulus sê hulle moet strewe na en hul gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, is dit glad nie ’n kwessie van vlug en vermy alles en almal op hierdie aarde of gaan bly in ’n klooster nie. Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, op die Goddelike werklikheid, dan sal jy krag van en leiding deur die Heilige Gees ontvang om hier in die aardse werklikheid te leef. Mag die Gees jou hierdie week lei om jou gedagtes te rig op die dinge wat daarbo is en jou krag gee vir die omstandighede wat jou versoek en laat struikel.
Ds Joleen Marx, Beroepafwagtend
