Handelinge 3: 1-10

Ons lewens is soms so gelaai met allerhande “dinge” dat ons bitter selde die tyd neem om die alledaagse (of dalk die besonderse van die alledaagse) rondom ons raak te sien. Soms kom kry ek my na ’n lang tyd dat ek bewus word van dinge soos die lied van ’n voëltjie of die verskillende kleure van ’n sonsondergang. Dit is in hierdie oomblikke dat ek wonder: By hoeveel spesiale oomblikke het ek verbygeloop sonder om enigsins daarna te kyk?

In Handelinge 3 ontmoet ons ’n man wat van sy geboorte af verlam is. Die skrywer noem dat die man se mense hom elke dag by die een tempelpoort gaan neersit het om by die tempelgangers te bedel. Ons weet dat mense met die een of ander liggaamsgebrek as onrein beskou is in die antieke wêreld, en dat die mense van sy tyd sou neersien op hom en, juis omdat hy bedel, hom nog boonop sou wou wegjaag. Die man is eintlik maar, in terme van die kultuurwêreld van sy tyd, ’n slagoffer van sy situasie. Hoekom gaan sit sy mense hom juis elke dag by die tempelpoort neer?

Die man het eintlik gesmag na dit waarna ons almal smag, en dit is hoop. Die tempel was tog altyd in die mense van Israel se geskiedenis vir hulle ’n simbool van hoop. Dit was immers vir hulle die blyplek van die Here. En sekerlik moes die mense wat daarheen gegaan het ook mense van hoop gewees het? Hoeveel dae, weke, maande en jare het hierdie man egter daar gelê waar die “mense van hoop” nie uitgereik het na hom nie, maar eerder verbygeloop het?

Dis baie makliker om mense te wees wat verbyloop as om mense van hoop te wees. Mag ons opnuut bewus raak van ons Here, Jesus Christus, wat eerste sy hand van hoop na ons toe uitgereik het, want dan sal ons nie anders kan nie as om mense van hoop te wees.

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap