Matteus 9: 1-8
Partymaal voel ek ook soos hierdie verlamde man. Daar is iets in my lewe wat my lamlê, iets wat maak dat ek ook soos ’n verlamde op ’n slaapmat lê. Ek kan nie opstaan nie. Ek kan nie aangaan nie. Kyk ’n bietjie mooi rondom jou en selfs na jou eie lewe, jy sal sien hoe dit lyk. Luister ’n bietjie en jy sal hoor dat mense sê: Daardie hartseer in my is net te groot. Ek kan nie hierdie finansiële probleem oorkom nie. Ek is verslaaf. Ek was in ’n ongeluk. Ek is siek. Ek is bekommerd en gespanne. Ek is bang. Dit is juis in hierdie omstandighede dat so baie van ons heeltemal alleen voel. As ek soos ’n hulpelose op ’n slaapmat lê, dan raak my familie stil, my vriende is nou baie yl gesaai. Daardie hulp en ondersteuning waarop ek gehoop het, dis net nie daar nie. Die oproep waarvoor ek gewag het, is net stil. Die bemoedigende woorde is daar, maar dit bly leeg, dis ver en koud. Ek is so jammer oor dit wat met jou gebeur het. Baie sterkte. Ons bid vir jou, mag die Here jou seën. Maar dit is alles op ’n afstand.
Ons sien in hierdie gedeelte dat Jesus nie so maak nie. Die Here hou my vas. Hy troos my. Hy vee my trane af. Dan help Hy my op, Hy los my nie dat ek maar net bly lê nie. Hy praat my weer moed in sodat ek dapper kan wees. Jesus leer my weer om te loop. Hy leer my weer om te praat. Hy herstel ook my lewe, selfs al is daar baie dinge wat nooit weer dieselfde sal wees nie.
Gebed
Dankie, Jesus, dat U my ook vandag aan die hand neem en my weer ophelp. Gee my die dapperheid dat ek sal uitreik, die oproep sal maak, die hulp sal aanbied aan my familie en vriende wat net nie meer kan nie. Amen.
Ds Pieter Rossouw, Mafeking/Zeerust