1 Petrus 4: 12-19

Min dinge in die lewe is so seker soos belasting en ons eie sterflikheid. In hierdie gedeelte sê die skrywer dat daar nog iets is waarvan ons seker kan wees. Ons as Christene sal ook beproewinge in ons lewens ervaar, want Christenwees sluit nie lyding uit nie. 1 Petrus is eerstens gerig aan gelowiges wat onder vervolging deurgeloop het. Ons ervaar nie dieselfde vlakke van vervolging nie, maar die werklikheid van lyding en pyn is steeds ’n sekerheid vir ons.

Dan sê die skrywer ’n vreemde ding: Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel… Vreemd, maar dit maak tog sin as ons mooi daaroor nadink. Christus het na ons wêreld toe gekom en Homself verneder deur ’n mens te word, deur mense te dien eerder as om gedien te word, deur die straf vir ons sondes op Hom te neem en in ons plek aan die kruis te sterf. As ons ly en beproewinge deurgaan, moet ons in gedagte hou dat ons die heel grootste lyding gespaar is danksy Christus. Sodoende kan ons te midde van swaarkry tog ook blymoedig bly.

Daarom sê 1 Petrus 4: 1 dat wie liggaamlik gely het, afgereken het met sonde. Christene wat ly, veral omdat hulle in Christus glo, deel sodoende in die lyding van Christus waardeur ons sonde versoen is, en daarom ook in sy opstanding en die ewige lewe. Dit gee positiewe betekenis aan ons lyding, wat andersins as sinloos ervaar mag word en ons wanhopig kan maak.

Ons Skrifgedeelte sluit daarom af met die gedagte van vertroue op God ten spyte van lyding. Daarom moet ons ons hoop vestig op die verlossing wat Christus bewerkstellig het, selfs al is ons lewe vol lyding en swaarkry. Niks en niemand kan daardie verlossing en genade van ons wegneem nie.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link