Openbaring 10: 9-11

Dit sal maklik wees om te dink dat die wêreld se standaarde en waardes deel geword het van ons lewe, omdat ons gebore is en dag na dag op die aarde woon. En omdat ons wêreldse mense is, tree ons ook soos wêreldse mense op. Omdat ons wêreldse mense is, praat ons ook soos die wêreld. Ons tree op en praat soos wêreldse mense.

Ons lees in Openbaring 10: 9 dat ons die klein boekie moet eet. As ons die boekie, wat die Goeie Nuus van die evangelie is, eet, dan maak ons dit deel van ons manier van optree en die manier hoe ons praat. Wanneer ons die evangelie van Jesus Christus eet, raak ons al hoe meer wie ons reeds is, naamlik kinders van God. Wanneer ons die evangelie eet, tree ons al hoe meer op soos mense wat anders is as die wêreld. Dan is ons mense wat ander waardes en standaarde uitleef as wat daar in die wêreld is.

Ek en jy is in hierdie wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie. Ons moet uitstaan bo die wêreld, ons moet anders wees deur die evangelie van Jesus te eet en dit deur woord en daad uit te leef, totdat Hy weer kom.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

af
af
Deel met behulp van
Copy link