Lukas 9: 57-62

Na al sy wedervaringe het die skrywer Robert Frost verklaar dat hy alles wat hy van die lewe geleer het met drie woorde kan opsom: Dit gaan aan!

Die lewe gaan aan. Wat hou ons nog terug? Vorige mislukkings of teleurstellings dalk? Onthou dan: Die lewe gaan nie daaroor om die beste te wéés nie, maar om jou beste te dóén. Mislukking bied aan ons die geleentheid om weer te begin – net ’n bietjie wyser. Soms is dit wat lyk soos die slegste ding wat met jou kon gebeur het, die heel beste ding wat met jou kon gebeur het.

Sommige mislukkings is onafwendbaar. Dit is onmoontlik om te lewe sonder om langs die pad met iets te misluk – tensy jy so versigtig leef dat dit voel asof jy nooit gelewe het nie. So ’n lewe is in elk geval geen klinkende sukses nie. Moenie hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk nie – laat die dinge van gister agter. Gryp die dag van vandag aan en gee jou alles. Strek jou uit na wat voor is. God het hierdie dag aan ons geskenk. Kom ons laat dit tel. Maak die beste van elke genade-oomblik. Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe, het die radio-omroeper Fanus Rautenbach mos graag gesê.

In die rolprent Cast Away speel die akteur Tom Hanks die rol van die enigste oorlewende van ’n vliegongeluk wat op ’n verlate eiland uitspoel. Daar voer hy ’n verbete stryd om aan die lewe te bly. Op ’n dag sê hy: Moet nooit moed opgee nie, môre kom die son weer op en wie weet wat met die gety gaan uitspoel.

Ons is in groot moeilikheid wanneer ons begin glo die beste lê iewers agter ons. Nee, die beste lê voor ons. Jou beste dae en jou beste jare lê voor jou. Ons hoef nie te weet wat môre gaan oplewer nie, al wat ons nodig het om te weet is dat God daar gaan wees. Dit is genoeg.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Copy link