Rigters 3: 12 – 4: 10

Noudat ons van hierdie rigters se optrede gelees het, kan ons Samgar se bydrae bespreek. Jy sal dalk gou weer moet lees om vas te stel wie Samgar is.

Nie ’n niksseggende vermagting nie, om 600 geharde Filistynse soldate met ’n stuk plaasgereedskap dood te slaan. Tog optrede wat tussen Ehud en Debora se verhale amper verlore gaan. Drie hoofstukke van die boek Rigters word aan Simson se avonture afgestaan. Debora se verhaal duur nog ’n hoofstuk en ’n half verder. Selfs Ehud se enkele eskapade word in groot detail beskryf. Samgar kry ’n enkele vers (Rig 3: 31).

Een vers is egter genoeg om oor enige rigter die kern van die saak saam te vat: Ook hy het Israel verlos (AFR2020). Sonder die werk van hierdie man wat in een versie beskryf word, en sonder die werke van baie ander wat nie eens ’n versie gekry het nie, sou Israel verlore wees. Beroemdheid en erkenning moet nie met waarde en belang verwar word nie. Sowel Simson as Samgar se optrede dien God se wil volgens ’n Ou Testamentiese waardestelsel, en is daarom van dieselfde belang.

In die Nuwe Testament leer ons by Jesus en sy apostels dat werk van waarde en belang wat selde roem en erkenning kan bied, gedoen word onder randfigure. Watter erkenning kan ’n mens ontvang as jy verby iemand in nood stap en spontaan aandag skenk? Watter roem volg op die uitmergelende verantwoordelikheid van ouerskap, of nederige diens aan die groepe waarbinne ons leef? Oordeel en vervolging is meer waarskynlik.

Sulke werk is egter nie van minder waarde as die werk van die rigters nie, want dit is in diens van God. Miskien praat mense nie oor die waarde van ons werk nadat ons sterf nie. Maar ons het nou reeds geleentheid om die waarde van die ewige lewe te beliggaam. Elke woord en daad van ons het die potensiaal om vanuit die ewigheid self beskryf te word.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap