Markus 10: 13-16

Dit is opvallend dat die onderhawige gesprek volg pas nadat Jesus oor egskeiding gehandel het. In dié verband is dit nog meer vreemd dat die dissipels mense wat kinders na Jesus gebring het om hulle aan te raak, berispe het. Jesus is verontwaardig en stel dat die kinders na Hom toe gebring kan word en nie verhinder moet word nie. Behalwe dit, word die kinders aangewend as ’n besondere gelykenis wat op die koninkryk van God van toepassing gemaak word. Jesus dui aan dat die koninkryk van God juis aan mense soos hulle behoort. Dit herinner aan Jesus se antwoord aan die dissipels dat die koninkryk van God aan die dissipels bekend is, maar dat ander dit deur gelykenisse moet leer. Sommige sal egter sien, maar tog nie sien nie, en sal hoor, maar tog nie hoor nie. Dit herinner ook aan die Tomas-geloof wat voorwaardelik en eisestellend van aard is, net soos die verwagting wat aan Jesus gestel word om ’n teken te vertoon as bewys van gesag.

Geloof is natuurlik op kennis van die Bybel gebaseer. Dit loop ook daarop uit dat krities met die Bybel omgegaan word, nie meerderwaardig en uit menslike hoogmoed nie, maar om reg aan die Skrif te laat geskied in ’n poging om te deel in die diepgang van die Skrif. Eeue gelede is egter reeds aangedui dat geloof nie net ’n sekere kennis is nie, maar ook ’n hartlike vertroue. Dit is hoekom kinders aanduiding is van die mense aan wie die koninkryk van God behoort. Dit gaan oor die manier hoe die koninkryk van God ontvang word, eenvoudig, kritiekloos en onvoorwaardelik, want dit is God se koninkryk. Wat meer is: Dit is God wat praat in die kerk, deur sy Woord, in my lewe, in my werk, grensloos, onverkort.

Kinders as gelykenis van die ontvangs van en reaksie op die Woord van God, op die koninkryk, word veral duidelik in hul beginjare wanneer ouers en onderwysers se woord kritiekloos aanvaar word. So is dit ook hier: Jesus sê so, dit is van God.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

af
af
Copy link