Johannes 21: 20-25

Een van die grootste probleme met die verstaan van die Bybel, so vertel die teoloog Leonard Sweet met sy onlangse besoek aan Suid-Afrika, is dat ons hopeloos te veel maak van die lees van die Bybel as die geskrewe Woord van God, en veels te min van die luister na sy Woord.

Min mense het ooit deur die eeue die Here se wil leer ken deur dit te lees. Lank voor die skryfkuns, is verhale oor God oorvertel. Die volk het van God gehoor en so sy wil leer ken. Later, met die opskryf van die verhale oor God, is die geskrifte gereeld voorgelees. Verreweg die meeste mense het egter van God gehoor, eerder as van Hom gelees. Lees het eers mode geword in die 15de eeu toe die boekdrukkuns van die verskillende geskrifte een Boek gemaak het. Selfs vandag nog is daar vele wat nie kan lees nie, maar wel van God hoor!

Met die samevoeging van al die geskrifte in een boek was die bedoeling nie om nou nuwe (onbedoelde) betekenis aan die gedrukte woord te verleen nie. Die probleem as die woord(e) net op sigwaarde geneem word (dit wat in swart op wit daar staan), lei dit dikwels tot ’n letterlike verstaan van die woorde van die teks en word die stem van God (bedoeling) wat uit die woorde na vore moet kom, gekamoefleer. Die eintlike boodskap word onderdruk.

Geleerdes beweer dat ’n mens slegs 20% van jou boodskap met woorde oordra. Die res van die boodskap lê in wat buite die woorde lê. Dit beteken dat ek hoogstens 20% kan begryp as ek met die gedrukte Woord van God voor my sit. Dit hoef my egter nie moedeloos te maak nie. Met die regte agtergrondinligting en ander hulpmiddels kan ek die persentasie van my verstaan baie hoër maak. So kan ek leer om te luister na wat die Gees vir die gemeente wil sê.

Here, ek wil graag na u Woord luister. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link