Johannes 8: 31-47; Matteus 11: 25-30
Alle mense het verskillende tipes bagasie waarmee hulle deur die lewe reis. Fisiese bagasie speel in ons lewens ’n belangrike rol, omdat ons gedurig beplan wat ons met ons moet saamneem wanneer ons na ’n spesifieke bestemming op pad is. Ons dra ook emosionele bagasie met ons saam: Skuldgevoelens, ontevredenheid, moegheid en tamheid, verdriet, eensaamheid, bekommernis en ongelukkigheid is maar enkele van die emosies waarmee ons gereeld worstel. Ons dra ook bagasie uit die verlede met ons saam: voorveronderstellings, vrese, tradisies, foute wat ons gemaak het…
Wanneer Jesus uitgeputte en oorlaaide mense nooi om na Hom toe te kom sodat hulle rus kan kry, wil Hy daarmee vir ons sê dat Hy ons nie wil oorlaai met allerhande onnodige bagasie nie. Hy wil ons leer om ware vrede te ervaar en om te ontdek dat sy juk sag en sy las lig is. In Johannes 8: 31-47 praat Jesus met dié wat nie ag wil slaan op die woorde en die waarheid wat Hy vir hulle gebring het nie. Deur ’n hardkoppige vashou aan hul afkoms en aan mensgemaakte reëls, ontbeer hulle die waarde wat Christus in hul lewens kan hê. God wil aan ons ware rus gee. Hy ken ons ten volle en weet dat ons in alles oorwinnaars saam met Hom is. Ons moet as’t ware ons bagasie laat los en bereid wees om met vertroue aan God oor te gee.
In Filippense 3 word verwys na die wedloop van die lewe. Daar praat Paulus oor alles wat in die verlede vir hom eers ’n bate was, maar wat nou waardeloos geword het ter wille van Christus. Hy beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde. Daarom sê hy maak hy hom los van wat agter is en strek hy hom uit na wat voor is. Die oproep is dan: Laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hier gekom het. Mag ons die uitnodiging van die Here so in ons lewens aanneem.
Ds Martin Meyer, Secunda
