2 Konings 6: 24 – 7: 20

Alle dinge verander, dis die enigste konstante waarheid waarvan ons bewus is. Dinge kan negatief verander. Ons kan hoop dat die hongersnood verlig word, en dan verander die situasie sodanig dat ons deur ’n Aramese weermag ook nog beleer word. Maar om hoop te verloor omdat dinge al hoe slegter gaan, maak die noodwendige uitkoms waarop ons kon hoop, eintlik tragies. 5 kg meel is min troos vir iemand wat eergister hul kind gekook en geëet het, omdat hulle nie meer gehoop het op uitkoms nie.

En daarom moet gelowiges hoop in die wêreld verkondig. Die hoop is immers daar. Dit is ’n gegewe. Hoe kan ek nog op die Here hoop? vra die koning vir Elisa. Hoe kan jy nié op die Here hoop nie? Kyk wat doen mense wat nie meer op die Here hoop nie. Hulle eet hul eie kinders twee dae voordat die Here uitkoms bewerk vanuit die einste dinge wat die hopeloosheid veroorsaak. As hulle maar twee dae langer gehoop het.

Daarom, of dit nou die sosio-politieke omstandighede van die land is wat hoop wegskaaf, of persoonlike finansies, of gespanne menseverhoudinge, of verantwoordelikheid in onstabiele omstandig-hede, of verlies, of vrees, of eensaamheid – hoop op die Here. Moenie nou maar net doen wat mense doen in desperate situasies nie. Moenie die buurvrou oortuig dat ons almal môre deur vyand of hongersnood oorval gaan word en dat ons daarom paniekbevange moet optree nie. Moenie paniekbevange optree omdat die buurvrou paniekerig is nie. Moenie mense veroordeel omdat hulle in hopeloosheid verval nie, maar moet ook nie self die hopeloosheid aantrek nie. Onthou wat sê die Here, anders aan ons as aan die mense van Samaria, want ons nood is anders, individueel en stedelik en nasionaal – maar onthou wat sê die Here: Môre dié tyd, is daar uitkoms. Juis in die oop poorte wat julle vandag vrees. Die hongersnood is daar. Die weermag is daar. Maar God is ook nog daar. Hoop op Hom en leef in daardie hoop, totdat die hoop in vervulling gaan.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link