Psalm 136: 1

Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

Wat is sonde? Daar is basies net vier dinge waaraan jy meet of iets sonde is. As jy God benadeel, as jy jou medemens benadeel, as jy jouself benadeel, en as jy die natuur benadeel, dan sondig jy. As jy ’n bepaalde daad gaan toets aan hierdie kriteria, sal jy nie in die strik trap om alles as sonde af te maak nie. As matigheid voor oë gehou word met enige ding, is die gevaar in ’n mate uitgeskakel dat jy sondig, behalwe die sondes wat die Bybel by die naam noem: die Here se Naam misbruik, afgode dien, Sondae nie vir die Here tyd maak nie, steel, en al die ander.

Waarom altyd op die negatiewe fokus, soos sonde byvoorbeeld? Fokus eerder op dit wat positief is. Vra jouself: Wat wil God hê moet ek doen? As jou antwoord gaan wees maak soos die Here Jesus sou maak, is jy aan die veilige kant. Hoe het Hy gemaak? Hy het lief gehad. En …Aan sy liefde is daar geen einde nie. As jy Hom daarin gaan navolg, gaan jy God liefhê en Hom die middelpunt van jou lewe maak. Jy gaan jou medemense se belange bevorder. Jy gaan nie dinge doen waardeur jy jouself skade aandoen nie. Jy gaan op elke denkbare terrein die natuur bewerk en bewaak, soos Genesis sê. Dan gaan jy nie sit en tob oor wat jy dalk verkeerd gedoen het nie. Jy gaan jouself voortdurend tot die uiterste toe inspan om God se liefde na te leef. Jy gaan nooit daarin slaag nie, maar dit gaan jou edele doel in die lewe wees.

Wat skep meer waarde in jou as om lief te hê en liefgekry te word? As jy liefhet, gee jy waarde aan iemand anders. As jy liefgekry word, ontvang jy waarde, veral as jy hoor aan God se liefde vir jou is daar geen einde nie.

Dankie, hemelse Vader, dat U ons leer om lief te hê. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link