Markus 14: 3-9

Dit sou nie vir die dissipels vreemd wees dat ’n gasheer sy gaste met olie salf nie. Om ’n héle fles olie te gebruik, is ook nie ’n vreemde gebruik nie. Konings Saul, Salomo en Jehu is almal in sulke private omstandighede met ’n fles olie tot koning gesalf. Maar die dissipels skrik hulle boeglam wanneer hierdie vrou Jesus met hierdie ritueel tot koning salf.

Die mense het Jesus as triomfantlike koning in Jerusalem ontvang. Die dissipels bely dat Hy die Christus, die gesalfde van God is. Maar om van Hom die gesalfde te máák, is skoorsoek. Die Romeine sal vir seker iets te sê hê as die dissipels nie die vrou se optrede afkeur nie. Maar hoe kan hulle haar optrede veroordeel wanneer dit eenvoudig ’n uitdrukking is van wat hulle bely?

Die armes is die antwoord! Jesus sê mos ons moet hulle versorg. Ons kan Jesus volg en terselfdertyd vir die wêreld wys ons ondersteun nie die vrou se optrede nie. Om die armes te versorg, is egter een van baie vorme waarop Jesus se opdrag om naasteliefde te betoon gehoorsaam word, waar en wanneer dit moontlik is. Die vrou betoon liefde aan Jesus deur Hom nie net te bely as gesalfde nie, maar deur Hom te salf.

Die vooruitsig op lyding was te veel vir die dissipels om hul belydenis in optrede te verander. Hulle berispe selfs iemand wat hul belydenis leef op grond van Jesus se eie leringe, omdat dit hulle bedreig. Maar Jesus se troonbestyging en sy begrafnis is dieselfde seremonie. Salwing vir een is salwing vir die ander. Die pad na sy troon is ’n pad van lyding uit liefde wat ons bevry om volgens sy soort liefde te leef. Ons salf Hom slegs tot ons Koning wanneer ons ook bereid is om sy voorbeeld van lyding ter wille van sy Vader se koninkryk te volg. En ons doen dit met vrymoedigheid in die wete dat ons ná lyding en dood onder ons Koning se heerskappy voortleef.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link