Matteus 28: 1-10
Die vroue gaan na die graf van Jesus op die eerste Paassondag, as verslae mense vir wie Jesus nog net in hul herinnering voortleef – mense wat niks verwag nie. Ons is dikwels nie baie anders as die vroue nie. Al weet ons van Jesus se opstanding – soos Hy gesê het (vers 6) – is dit nie vir ons ’n werklikheid nie, ervaar ons nie die krag daarvan nie, en verwag ons eintlik niks. Ook vir ons is Jesus dikwels weinig meer as ’n historiese herinnering.
In hierdie situasie is ons teks die verkondiging van die vreugdeboodskap: Hy is uit die dood opgewek. Die opstanding en oorwinning oor die dood is ’n Goddelike magsdaad waarvan die aardbewing, die engel en die leë graf die tekens is. God wys sy mag teenoor die mag van die bose en teenoor alle menslike pogings om Hom te bind. Die wagte wat skrik en die verseëlde graf wat oopgaan, is tekens daarvan.
Dit is die vreugdeboodskap: Jesus leef, en die Koninkryk van God breek onherroeplik deur. Paasfees is ’n vreugdefees, ’n oorwinningsfees – die hoogtepunt van die evangelie. Op dié dag moet alle vrees en twyfel verander in vreugde en geloof. Die teks roep ons op tot geloof – geloof wat beteken dat ons in Jesus se opstanding inderdaad die deurbreek van God se nuwe wêreld raaksien en God daarom toelaat om kragtig in ons lewens in te breek. Op Paassondag beteken geloof dat daar geleef sal word uit die krag van Jesus se opstanding. God se amen is tegelyk die mens se halleluja!
Wanneer ons dit reg verstaan en uitleef, kan dit nie anders nie as dat ons geloof sal uitloop op die verkondiging van die evangelie. Geloof in die opgestane Jesus beteken om getuie te wees van die opstanding in die sin dat ons sal leef in die lig van die opdrag van Jesus self, Gaan dan heen, dat ons sal leef vanuit die belofte dat Christus met ons is. So ervaar ons die kragtige uitwerking daarvan in ons lewens.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
