Psalm 93
Hierdie is ’n baie mooi Psalm. Dit sê vir ons iets van God se krag, sy majesteit en sy koninklike mag. Hierdie Psalm is ’n gedig wat geskryf is, dis ’n kunswerk. Daarom moet ons luister na die Psalmdigter se stemtoon, ons moet oplet na beeldspraak, ons moet kyk hoe hy die Here se opdragte met mooi woorde versier. Die Psalmdigter gebruik die oorweldigende waters van ’n rivier wat in vloed is om sy eie frustrasies, versoekings en bedreigings te beskryf. Soms voel ek ook so. Ek voel party dae soos ’n klein mensie teen hierdie vreeslike water. Dit voel of ek vasgekeer is, ek kan nie uit nie. Hierdie groot waters verswelg my. Dit dreig om my heeltemal in te sluk. Dit is te sterk. Ek kan niks doen om dit te keer nie.
As ek vandag so voel, is dit nodig om weer te onthou: Die Here gee uitkoms – swaarkry hou nie vir altyd aan nie. Die Here gee krag – ek kan bo my omstandighede uitstyg. Die Here gee genesing – al is daar dalk groot hartseer en pyn in my lewe. God is groter as hierdie dinge wat dreig om my te verswelg. Kom ons onthou dit vandag met hoop en blydskap. Die Here los ons nie alleen nie, al is daar baie groot golwe rondom ons. Al druis en dreun die waters hoe hard, God bly vir ons lief. Die deernis en liefde wat Hy vir ons het, staan so vas soos die grond onder ons voete.
Daarom gaan ek vandag my lewe met heiligheid versier. Vandag gaan ek só leef dat gehoorsaamheid van my ’n mooi mens maak. Ek weet die Here sal my help om bo my swaarkry en probleme uit te styg, en dit sal ’n bron van hoop vir almal rondom my wees. Die Here wil my vandag seën met sy oorvloedige gawes, en ek gaan dit aanneem. Net soos die Psalmdigter, sal ek dan ook al hierdie bedreigings begin sien vir wat dit regtig is. God is mos groter as al hierdie dinge!
Ds Pieter Rossouw, Mafeking
