Lukas 6: 27-36

As ons getuies van God wil wees, is dit vanselfsprekend dat ons sal weet wie God is. As sy kinders sal ons ook karaktertrekke van ons Vader moet vertoon sodat mense die verwantskap kan raaksien. Jesus het immers self gesê dat ons ons lig so voor die mense moet laat skyn dat mense ons goeie werke kan sien en die Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matt 5: 16). Maar watter karaktertrekke moet ons vertoon om soos die Vader te lyk?

Vanaf vers 27 gee Lukas riglyne vir die optrede van gelowiges teenoor ander mense. Hieruit sou ons ’n paar karaktertrekke kon aflei wat ons op ’n lysie kon plaas. Ons sou dit gemaklik kon opsom dat Jesus van sy volgelinge meer verwag as wat die aanvaarde norm is. Hulle moet in liefde en omgee anders wees as die gewone. Bid vir dié wat jou sleg behandel. Wees lief vir jou vyand. Seën hulle wat jou vervloek. Moenie terugeis wat iemand van jou vat nie. Net as hulle anders as die mense optree, kan hulle kinders van die Allerhoogste wees (vers 35).

Jesus het sy Vader se wil kom doen en verwag dieselfde van sy dissipels. Daarom sê Hy aan hulle: Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (vers 36). As hulle by die meer staan tussen honger mense, kry hulle die opdrag: Gee julle vir hulle iets om te eet. Hy vertel gelykenisse wat doengeloof uitspel (oor die barmhartige Samaritaan en oor talente). Vir Hom word geloof gedefinieer deur besoeke aan gevangenes, kos gee vir dié wat honger is, klere gee vir die naaktes, en gasvryheid aan vreemdelinge. Geloof impliseer om lief te hê, om vrede te bevorder, om te vergewe. Dit is eintlik so eenvoudig om Jesus se boodskap te leef: Wees lief vir alle mense namens God.

Hemelse Vader, ons wil u beeld vertoon. Help ons om barmhartig te wees soos wat U barmhartig is. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link