Job 22

Vandag is Nasionale Vrouedag. Vroue is nie hoog geag in die Ou-Testamentiese tyd nie. Dalk as vrou en ma, maar nie in die samelewing nie. Om die waarheid te sê, ’n vrou is gesien as nog een van die man se besittings. So is daar vandag nog Christene wat dink ’n vrou kan nie ’n predikant of selfs kerkraadslid wees nie. In die begin van die 20ste eeu was die groot debat nog of vroue mag stem of nie!

Job se vrou word ook maar negatief geskilder. Daar op die ashoop met sy pynlike swere, snou sy hom simpatiekloos toe: Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf! Daarna lees ons eers weer in Job 19 van haar, waar sy steeds simpatiekloos uitgebeeld word.

Volgens Job se wysheid het vroue ook deel aan die ellende van die mens. Hy skryf die ellende van die mens deels daaraan toe dat die mens uit ’n vrou gebore is. Dan vra hy in hoofstuk 25 die vraag: Hoe kan ’n mens wat uit ’n vrou gebore is in ’n onrein proses, enige regte voor die Here hê? Die mens kom dan eintlik onrein die wêreld in, danksy die vrou!

Tog, Job laat ons ook besef dat God anders as die samelewing van daardie tyd na ’n vrou kyk. Vroue, veral weduwees, wat niemand gehad het om hulle te versorg nie, het bitter swaar gekry. Die gemeenskap het hulle nie versorg nie. Inteendeel, hulle is dikwels verontreg en uitgebuit.

In Job 29 verklaar Job dat hy barmhartigheid aan weduwees en ander onderdruktes betoon het en hul harte bly gemaak het met sy ontferming oor hulle. Dit is ’n bewys van sy vroomheid. So word onbarmhartigheid teenoor mense sonder mag uitgewys as een van die groot sondes van hul tyd. Job was nog ver daarvan om hom vir vroueregte te beywer, maar minstens het hy al ingesien God duld nie onreg en uitbuiting van mense sonder mag nie. Die beste manier om dit reg te stel, is om te verstaan dat almal gelyk is voor God, en jou te beywer vir gelyke regte vir almal.

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link