Lukas 2: 1-7
Met Jesus se geboorte is die welkomsgroet aan ons Verlosser nie ’n warm en gerieflike kamer in ’n herberg nie – Hy moes in ’n stal sy menslike eerste lewenslig aanskou. Sy eerste welkomsgroet is nie van die geestelike leiers en almal wat gereed moes wees vir sy aankoms om Hom as Immanuel, God met ons, te ontvang en te loof en te prys nie. Nee, sy eerste welkomsgroet sou wees: Daar is nie vir jou plek in ’n gerieflike, warm herberg nie, en ons is nie eens van jou bewus nie. Later sou hierdie welkomsgroet uitgebrei word met: Daar is nie vir jou plek in ons land nie. Koning Herodes maak babaseuntjies dood om van Jesus ontslae te raak, en Josef en Maria moes vlug na Egipte. Duidelik geen plek in ons land nie.
Later, wanneer Jesus preek en wonders doen, God se koninkryk en al die kennis wat ons nodig het vir verlossing van sonde en die bose en die dood bekendmaak, is dit die geestelike leiers van die volk wat met Hom twis en redeneer en planne beraam om Hom dood te maak, want: Daar is geen plek vir jou in ons gemeenskap nie. En dan volg die welkomsgroet van: Daar is nie plek vir jou in ons wêreld nie. Tussen die wêreld en die hemele sou Hy hang, gekruisig op Golgota, terwyl spot en haat en hoon die botoon sou voer, en sy mense sou skreeu: Kruisig hom! Kruisig hom!
Waar ons oor ’n paar dae Kersfees vier, en nou ons Verlosser se koms na ons toe bedink en gedenk, is daar plek vir Jesus in my lewe, in my huwelik en gesin waar ons leef en soms verskil? Is daar plek vir Hom in die manier waarop ek konflik hanteer, hoe ek in my verhoudinge leef en werk? Is daar plek vir Hom in die voorbeeld wat ek oral stel? Die toets van geloof bly die vrugte van geloof wat in dankbaarheid vir ons Verlosser in ons lewe na vore kom. Wat is jou welkomsgroet aan Jesus elke dag en oomblik in jou lewe?
Ds Hans Britz, Standerton
