Psalm 69: 22; Johannes 16 

Vra enige boer wat ’n droogte moes deur, hoe dit voel om sy vee te sien lê om nie weer op te staan nie. Vreemd dan dat ons by ’n ongeluk stilhou om te kyk hoe mense bloei…  

Sy aanklaers voel geregverdig toe Jesus sê: Ek is dors! Kyk, hy is te pieperig om God te wees! God sterf mos nie? Hulle wag dat ’n man wat voorgee hy is God, bewys hy kan nie doodgaan nie. Doodgaan is van kruisiging tog die hele idee. Hulle maak hom juis dood om te kyk of hy keer. Sien julle? Ons was toe reg oor hom: ʼn doodgewone man wat niks kan regkry van wat hy belowe het nie, hy is daarvoor gans te lig in die broek.

Toe Jesus sê Ek is dors! weet Hy net nog een ding bly oor: Die Skrif moet vervul word. Die Ou Testament moet gebéúr. En Jesus preek!  Hy stuur ons na die dele van die Bybel toe wat vooruit al sê wat regtig nou hier aan die gang is.

Hy sê Hy’s dors. Hulle suig suur wyn wat na asyn smaak in ’n spons op, steek die spons aan ’n stok en druk dit teen sy mond.  Vir dors gaan dit nie help nie. Inteendeel, hulle hoop dit hou Hom effens langer aan die lewe, sodat Hy behoorlik kan lý!

Psalm 69 raas in jou ore, hier vlak voor jou oë. Wat hulle graag glo is sy mislukking, skreeu dié openbaring uit en word ’n grootse oomblik: Dis vir Hóm, die lydende kneg van God, vir wie ons asyn sou gee om te drink as Hy dors kry. Ons het. Jesus is Hý.

Só lyk die Christus van God! Ons het Hom gesoek. Hy het ons gevind. Kyk uit vir Hom, op die plekke waar jy gedink het jy Hom nooit sou kry nie. Selfs in ’n krip. . .

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

 

af
af
Copy link