Markus 4: 35-41

Die See van Galilea was nie ’n groot see nie, dit was eintlik maar ’n klein binnelandse meer, 21 kilometer lank en 11 kilometer breed. Nogtans kon die weer baie stormagtig raak, sodat vissermanne wat in die storm op hierdie meer gevang is, in gevaar was. Die meer was vir die mense van Galilea ’n bron van lewe. Behalwe vir die vis wat daar gevang is, is die omgewing rondom hierdie binnelandse varswatermeer groen en vol lewe, baie meer so as rondom die sout Dooie See laer af in die Jordaanvallei.

Maar water was, benewens ’n bron van lewe, dikwels ook die oorsaak van dood, vernietiging en chaos, as die watermag te sterk vir ’n mens se kragte was. Vandag staan ons steeds magteloos teen groot oorstromings en magtige storms.

So is Jesus, volgens Markus se vertelling, weer op ’n boot op die See van Galilea aan die rondvaar, op pad na die oorkant van die meer, om ’n bietjie weg te kom van die baie mense wat Hom volg. En Hy, waarskynlik uitgeput deur die massa mense, lê rustig en slaap op ’n kussing in die skuit, terwyl ’n storm opgekom het wat so wild woed dat dit sy dissipels se boot en lewe in gevaar bring.

Die dissipels maak Hom wakker en verwyt Hom: Meester, U gee nie eens om dat ons besig is om te vergaan nie! En Jesus staan eenvoudig op en gee die wind en see opdrag om te bedaar, en die wind en water luister na Hom, en kalmeer en gaan lê. En die mense in die boot is vol ontsag en verwondering oor wat gebeur het.

As jou lewensbootjie bedreig word deur kragte wat te groot vir jou is, hoef jy nie die Here te verwyt nie, vra Hom net om die storm stil te maak, en jy sal ook vol ontsag wees oor Hom en sy mag oor die magte wat vir jou te groot is.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap