Johannes 8: 12
Ek het al baie gewonder hoe dit moet voel om heeltemal blind te wees. Alles is donker en jy moet rondvoel wanneer jy iets soek. Jy herken mense slegs aan hul stemme en kan nie die natuurskoon om jou ten volle waardeer nie. Geen wonder nie dat lig die eerste ding is wat God geskape het. Hier praat ons nie van die son en die maan nie, want dit is eers op die vierde dag geskep. Die eerste lig was God self.
Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh 8: 12). Hy is die Een wat die donker van sonde en verlorenheid aan die kruis en met sy opstanding kom wegneem het! Jesus wil die lig vir die wêreld – met ander woorde, vir alle mense – wees. Hy het nie gekom om net sekere mense se lewens te verlig nie, Hy wil die hele wêreld lig maak.
Daarom is een van die eerste opdragte aan die dissipels: Julle is die lig vir die wêreld (Matt 5: 14). As ons vir Christus lewe, sal ons soos ’n lig skyn wat vir ander wys hoe Christus is. Ons kan tog nie sê ons is ’n dissipel van die Lig, maar dan kies om soms in die donker te leef nie. Ons moet elke dag ’n keuse maak teen die donker van sonde omdat ons die Lig volg. As dissipels van die Lig, moet ons gate in die donker van seer, swaarkry, alleenheid en moedeloosheid maak, want wie Hom volg, sal nooit weer in die donker lewe nie.
Gebed
Help ons, Here, om ons lig so te laat skyn dat die wêreld bewus word van u lig.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes
