1 Johannes 4: 17-18
Ons wil almal weet dat ons lewe sinvol is. Ons wil weet hoekom ons bestaan en hoe ons hierdie lewe moet leef. Hoe verhoed ons dat die lewe by ons verby gaan? Hoe verhoed ons dat ons soms soos suurstofdiewe voel? Die lewe is immers daar om geleef te word! Moet ons dalk al ons spaargeld trek en ’n wonderlike avontuur aanpak? Dalk die hoogste berge klim, in oseane swem en die uithoeke van die aarde sien? Om die een of ander rede dink ons om sinvol te leef, voluit te leef, moet ons voortdurend die een of ander avontuur aanpak. Tog kan geen mens nimmereindigend van die een avontuur na die volgende leef nie. Selfs avonture gaan naderhand net gewoonte word.
Om die lewe in oorvloed te ervaar, beteken eerder om in ’n nabye verhouding met God te leef sonder om vir God bang te wees. Om God se hart van liefde te leer ken. Jesus het hierdie prentjie van God kom wys: Ek is oop vir mense – by My is toegang gratis! By My is elkeen welkom! Dis nie ’n prentjie van ’n Here vir wie ons die heeltyd moet bang wees nie. Ons kan vreesloos lewe omdat ons nie op onsself aangewese is nie. Ons is op God aangewese. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Om so te lewe, vra waagmoed. Om God te vertrou met ons hele wese, is ’n opwindende avontuur.
Die pad van die lewe maak soms snaakse draaie met ’n mens. Nie een van ons weet wat môre vir ons wag nie. Ons weet nie waarheen die pad waarop ons nou is, ons gaan lei nie. Ten spyte hiervan ken ons die Pad. God is ons pad. God werk daar waar ons elke dag met die gewone dinge besig is. Hy is dáár waar ons daagliks sukkel om ons begrotings te laat klop en ons verantwoordelikhede na te kom. Om gelowig en vreesloos te lewe, om vas te hou aan God se liefde, maak die lewe sinvol!
Dr Sanrie de Beer, Philadelphia