1 Petrus 2: 18-25

Van ál die moeilik verstaanbare dinge in die geloof en ons geloofslewe, is hierdie seker die heel moeilikste: Waarom moet die gelowige ly? Ons kan dit verskillende name gee. Om in ellende te verkeer, swaar te kry of moeilikheid en probleme te ervaar. Daar is soveel dinge in die daaglikse lewe wat ons benoud en ontnugter laat dat mense begin moed verloor en geen uitkoms meer sien nie.

Petrus skryf hierdie brief aan gelowiges wat ook moed begin verloor. Hulle verduur erge beproewing en lyding, ook wat betref hul lands- en politieke omstandighede. Die gelowiges word bemoedig met die enkele opdrag en uitdaging: Bly aan God getrou! Al is die werkgewers onredelik en persoonlike omstandighede sleg, al voel die gelowiges hulle kan nie meer nie, is daar dié woorde van bemoediging: Bly aan God getrou!

Jesus Christus het juis die lydensweg tot die bitter einde gestap sodat die gelowige vry kan wees. Jesus het onskuldig gely, Hy het geduldig gely en Hy het gely ter wille van ander. Daarom is gelowiges wat lyding en beproewing ervaar nie aan hul eie lot oorgelaat nie en dwaal hulle nie soos verdwaalde skape rond nie. Jesus Christus lei ons in sy voetspore op die pad wat God vir die gelowige uitlê.

Ons kan nie ons lyding en swaarkry wegredeneer of wegwens nie. Die gebed van die gelowige bly dat God ons op ons lewenspad sal lei. Ek en jy is vry van die mag van die sonde en geroep tot ’n lewe aan God toegewy. Kom ons bly getrou aan God en getrou aan ons roeping, die oog gevestig op Jesus Christus, die Begin en Voleinder van ons geloof.

Gesang 576: 1-2

Moet jy stry teen moeilikhede, kind van God, vertrou op Hom;

Hy beantwoord jou gebede; Hy ken jou omstandighede.

Ds Leon Geel (sr), Grimbeekpark

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link